Stem Stellenbosch se haweloses?

Hierdie jaar vier Suid-Afrika 20 jaar van demokrasie. Die groot vraag is of die land se haweloses ook deel sal hê aan die feesvieringe en of hulle sal toustaan om hul kruisies op 7 Mei te maak.

Sherlin Barends

Katrina Horn, Ashley Essau, Mary-Ann Khan, Raymond Landers, Pharrel Heart en David Philander…

Die bogenoemdes is maar net ʼn paar haweloses (wit, bruin en swart; manlik en vroulik; jonk en oud) wie se stemme nie by vanjaar se verkiesing getel gaan word nie. ʼn Druppel in die see van die wat alweer nie gehoor gaan word nie.

Hulle sal nie toustaan op 7 Mei nie, tensy dit vir ʼn stukkie brood en warm sop is nie, of vir ʼn tweedehandse broek en ʼn hemp.

Dit is in juis so ʼn lyn waar ek die klomp gewaar, waar hulle ongeduldig (ander meer as die res) op hul beurt wag om gehelp te word. ʼn Groep Matie-studente in samewerking met ander organisasies (Streetstore en Straatlig) het hierdie week saamgewerk om Stellenbosch se haweloses te klee en te voed, voor die koue Bolandse winter kom.

Gertruida Booysen is werkloos en woon nou al agt jaar op die straat. Haar tingerige lyfie is met verskeie lae bont klere bedek. Sy hou haar kaal onversorgde hande warm deur hulle tussen haar beentjies vas te knyp.

ʼn Denkbeeldige 2 by 2 meter afskorting tussen die taxistaanplek en Aandklas (ʼn gewilde kuierplek in Stellenbosch) is haar tuiste, wat sy met haar boyfriend deel. Hier word daar op kratte gesit, op karton geslaap en dit ruik of hierdie stukkie grond ook as badkamer dien.

Booysen kan nie stem nie: “Die law het twee jaar terug ons klere en ander goed gelaai, my ID ook. Ek het nie geld vir ʼn nuwe ID nie”.

Samanthea Bunta, administratiewe klerk by binnelandse sake se Stellenbosch tak sê dit kos R140 om ʼn identiteitsdokument te vervang. Natuurlik kan ʼn nuwe identiteitsdokument nie uitgereik word indien jy nie die departement met jou identiteitsnommer kan voorsien nie.

“Dit is baie moeilik vir ons om te stem. Baie straatmense gaan nie stem nie, want ons kry nie bystand hier buite nie”, sê Booysen.

Skielik verhef sy haar eens huiwerige en heserige stem en sê dat “die law baklei liewer met ons en druk ons af, as wat hulle ons help!”

“So jy het nie nog lus om te stem nie, want wat baat dit? Die mense met mag sit aan tafel, maar niks kom daarvan nie”.

“Hulle verwilder jou net soos ʼn hond, jy word heeltyd weggejaag. Dit is nie lekker nie, that’s why, ek dink nie die straatmense gaan stem nie”.

“Tog cope ons”, sê sy weer sag. Mens kan nie help om haar maar te glo nie.

Soos Booysen bly Magdalena Plaatjies, of Voëltjie soos huller haar noem, ook op die straat. Sy lyk bietjie soos ʼn af-vlerk waar sy half besope op die straathoek sit.

“Vir wie moet ek stem? Vir wat moet ek stem? Ek stem nie meer nie!”

“Ek en my man het al jare gelede aansoek gedoen vir ʼn huis. My man is al onder die grond en daar het nog niks van die huis gekom nie! Julle moet vir my begin kop toe vat!”

Nie alle haweloses is so pessimisties oor die opkomende verkiesing nie. Granvill Esau noem ook die strate van Stellenbosch sy tuiste. Hy werk wel, maar “pay te min” om ʼn plekkie van sy eie te kan bekostig.

“Ek doen so 10 soorte werke: paint, karre was, matte was, enigiets”.

“Jy word sleg behandel, soos ʼn gemors”.

“ʼn Groot man van Macassar, hy is nou al dood, het vir my gesê ek moet stem, want as ek nie gaan stem nie gaan ek swaarkry”.

“Die jaar stem ek vir die wit man, want ja, die wit man staan dan vir my by. Laas keer het die ANC vir my gedisappoint”.

Anastasia Slamat, politieke ontleder, voer aan dat haweloses, soos talle ander in laer klasse van die samelewing, nie rêrig belangstel in politiek nie”.

Hulle is so besig om aan hul primêre behoeftes aandag te skenk, dat daar nie veel ruimte is om oor ‘luukshede’ soos die verkiesing te tob nie. Die stygende prys van ʼn brood is vir hulle belangriker”.

Tracy-lee Arendse, kliniese sielkundige by 2 Military Hospital glo dat daar verskeie redes is waarom haweloses nie stem nie. “Praktiese redes sluit in dat hulle nie altyd genoegsame toegang tot verkiesingsinligting het nie. Hulle het ook heel moontlik nie identiteitsdokumente nie”.

 “Hierdie politieke apatie kan ook ʼn produk van ʼn swak selfbeeld wees. Hulle glo nie hul stem of opinie tel nie”. Om te stem bevredig nie onmiddellik haweloses se gebrek aan basiese behoeftes nie en dit is dus nie hoog aan hulle prioriteitslys nie”.

Denise Paulse, Maatskaplike werker by die Stellenbosch nagskuiling sê dat politieke kwessies nie ʼn afdeling is waaraan hulle aandag skenk nie. Tog sê sy “dit is elkeen se demokratiese reg om te besluit of hy of sy wil registreer om te stem”.

“Jare terug het daar een politieke party die nagskuiling kom besoek en gevra of hulle bietjie met die haweloses kan gesels. Na dit het geen ander politieke organisasie, -party of raadslid op so ʼn manier uitgereik nie”.

“Niemand kom om met hulle te praat nie, om hulle bietjie te motiveer, of hulle in te lig oor die opkomende verkiesing nie”

Voor sy antwoord waarom sy dink talle haweloses nie stem nie, val sy haarself in die rede en sê: “dit is slegs my opinie, dit wil nie sê dit is so nie of dat hulle werklik so dink nie”.

“Hulle stem nie omdat hulle sien hulle lewensomstandighede verbeter nie: hulle het steeds nie werk en blyplek nie. Mens stem mos om by te dra dat sekere goed verander.”

Soos by die verkiesing is ʼn Identiteitsdokument is ʼn voorvereiste vir toegang tot die Stellenbosch nagskuiling. Dit is hier te Tennantstraat 3, waar haweloses daagliks tussen 5:30 en 6:30 groenboekie gereed toustaan vir ʼn tydelike hawe.

Ons sal maar wag en kyk of hierdie mense en ander soos hulle ook tou gaan staan op 7 Mei 2014.

Dit laat my dink aan die ou hawelose omie, met die grysbaard en goedkoop plastiek bottel alkohol wat sinies Frank Sinatra sing: “What a wonderful world”.

Wat is sy naam nou weer? Wat maak dit saak? Sy stem tel nie.

 

 

 

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s