Volschenk se ‘Elke dogter het ’n ma’: fiktief tog funksioneel

Die Afrika-waarde van Ubuntu behels dat ons slegs mens is deur ander mense. Dit maak dus sin dat ’n selfondekkingsreis nie een van isolasie is nie, maar dat dit eerder in nabye kontak (en konflik) met ander plaasvind. Madeleine Volschenk se debuut-roman, Elke dogter het ’n ma, illustreer suksesvol so ’n rit.

Daar is al wyd en syd oor die effek van afskuwelike geskiedkundige gebeure, soos Apartheid en die Holocaust, geskryf. Tog, omdat Volschenk haar aandag op die fiktiewe, eksentrieke Verster familie fokus, is hierdie aanslag verfrissend.

Destyds het Apartheidswetgewing dit onmoontlik gemaak dat gemengde paartjies soos Jaap en Mona in Suid- Afrika kon woon en trou. Hulle het toe hul families agter gelaat en na Italië geïmmigreer. Dit is hier waar hulle hul gay seun, Janse, grootgemaak het. Alhoewel Suid-Afrika vir talle hel was, was dit ook ’n veilige hawe vir Nederlandse Jode, soos vir die tweelingsusters Els en Gep, teen die Nazis se vervolging van die Jode. Laasgenoemde maak later Suid-Afrika haar tuiste, maar Els keer terug Nederland toe.

Intussen is dit Oktober 2007. Bibi Verster se lewe hang in skerwe: sy het haar verlowing verbreek, haar studies vir die tweede maal gestaak, haar hare kort geknip en swart gekleur, en nou gaan sy sak en pak Europa toe om verlangse familie (Janse, haar ouma se broerskind en Els, haar oumagrootjie se suster) te gaan opspoor. Hieroor is haar Suid-Afrikanse familie skepties, tog soos in vele ander families, is hulle te bang om haar besluit te bevraagteken.

Bibi se besluit om Suid-Afrika te verlaat dien in haar en haar familie se lewens as die katalisator vir verandering. Volschenk vertel nie net die leser van hierdie veranderinge nie, maar deur haar puik gebruik van beskrywende woorde en kleur is mens deel van Bibi se tog.

Verder is dit duidelik dat Volschenk haar huiswerk gedoen het om hierdie fiktiewe roman geloofwaardig te laat klink. Geskiedkundige datums in die roman stem ooreen met feite, en die gesprekke tussen Bibi en Els wat deels in Nederlands gevoer word, klink oortuigend.

‘Elke dogter het ’n ma’ fokus op ’n familie met ’n ryke geskiedenis. Om voort te gaan moet elk van hulle op een of ander manier tog hulself losmaak van die verlede. Lewe, dood, aanvaarding en sibbe wat slegs deur enkeles gesien kan word is van die ander sub-temas wat in die roman aangespreek word. Hierdie boek word sterk aanbeveel vir lesers wat in meer as net die wit en swart belangstel.

  • Die skrywer Madeleine Volschenk se ‘Elke dogter het ’n ma’ was tweede in die seksie vir debuutwerk in NB uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd van 2012. 
Advertisements

Haal uit en wyn!

STELLENBOSCH- Die aksynsbelasting, oftewel sondebelasting, van alkohol in Suid-Afrika het tussen 6.2% en 12% gestyg, volgens die 2013/2014 begrotingstoespraak.

Pravin Gordhan, Minister van Finansies, het gister die jaarlikse begrotingstoespraak in die parlement gelewer. Sy “goeie storie” het egter, soos gewoonlik,  mense wat drink swaar vir hul “sondes” beboet.

Jan Scannell, voormalige besturende direkteur van die suksesvolle Suid-Afrikanse alkohol produseerder en –bemarker, Distell, meen egter dat  hoër sondebelasting,  “nie werklik ’n effek  het” op hoeveel alkohol mense drink nie.

“Wat wel gebeur is dat mense afkoop na goedkoper drank”, sê Scannell. Dit veroorsaak dat “die voorkoms en gebruik van onwettige drank en brousels, waarop geen aksyns betaal word nie, toeneem”.

’n Verhoging van 9c is bygevoeg op die prys van ’n 340ml blikkie bier en die prys van Whisky styg met R4.80c ‘n bottel.  Afhangende van die tipe, is wyn tussen 13c en 62c duurder.

Verder is die prys van siders en alkoholiese vrugtedrankies met 9c per 330ml opgestoot.  Harde alkohol, soos brandewyn, sal jou R4.76c per 750ml bottel meer uit die sak jaag.

Gordhan het kort na hierdie aankondiging geskerts dat dit nie nou vir mense sou baat om te hardloop om vir oulaas goedkoper vir alkohol te betaal nie, aangesien hierdie verhogings onmiddelik geld.

Minister van Finansies het dit tog goed gedink om nie die sondebelasting op tradisionele Afrika-biere en bierpoeiers te verhoog nie.

Hy het natuurlik nie net van sondebelasting gepraat nie, en het trots hulle administrasie se suksesse opgenoem: ‘n groei van 5% per jaar tussen 2003-2008, uitbreiding van werksgeleenthede en ’n begrotingssurplus vir die eerste keer in 50 jaar.

Gordhan meen dit is indrukwekkend weens die effekte van ’n 70 jaar lange “ekonomiese aardbewing”, waar hulle aministrasie begin het met ’n ekonomie wat, in rugby terme, as ’n “hospital pass” beskryf kan word.

Kort na hierdie stelling het Gordhan gebieg dat hy nie rugby speel nie. Vir Chester Missing, ‘n handpop en politieke analiseerder, is dit Gordhan se hele toespraak in ‘n neutedop.

Volgens Missing weet Gordhan nie of hy ‘n “left wing” of ’n “right wing” is nie. Aangesien hy moet seker maak dat die EFF van hom hou en dat die “kapitaliste hule deel van die koek kry”.

Missing sê ook dat die ANC se hele storie is dat ons ’n goeie storie het om te vertel, en ja, ons het nie meer pasboeke nie, meer mense as ooit het lopende water, skole en huise in SA, maar dit kan steeds ’n beter storie wees.

Kompetisie Tussen Gymnasiums Het “Kleurvolle” Nagevolge

STELLENBOSCH – Van Der Stel Sport Sentrum se aantal nie-blanke lede het binne’n kort tydperk drasties toegeneem.

Na Virgin Active Stellenbosch hul deure oopgemaak het aan die einde van 2012 het Van Der Stel Sport Sentrum die druk gevoel. Talle van hul lede het oorbeweeg na die moderne gym, wat  deel vorm van ’n suksesvolle nasionale ketting gesondheidsklubs.

Ninette Steenkamp, wat help met Van Der Stel Sport Sentrum se bemarking, sê alhoewel  Virgin Active Stellenbosch hulle “’n knak gegee het” gaan dit nou baie beter by die gym. Heelwat jong-werkendes en studente wat woon in omliggende voorheen benadeelde gemeenskappe soos Idasvallei, Cloetesville en Kayamandi is tans lede van die gym.

Toe Steenkamp gevra is of die fokus van Van Der Stel Sport Sentrum se bemarkings-strategie doelbewus verander is om nie-blanke lede te lok het sy gesê “dit is bloot ’n toeval”.

Hoe infiltreer mens toevallig ’n nie-blank netwerk sonder om die fokus van jou bemarkingstrategie te verander? Nadia Thys van Idasvallei vertel dat toe sy deel Van Der Stel Sport Sentrum geword het, sy vriendelik gevra is om die nommers van tien van haar vriende wat moontlik sou belangstel om te gym, op ’n lys neer te skryf.

Van Thys se vriende wat later deel van Van Der Stel Sport Sentrum sou word is gevra om dieselfde te doen. Almal van hulle ook nie-blank.

Philip Schrewe, verkoops-bestuurder by Van Der Stel Sport Sentrum, se sowat 65% van hul lede is nie wit nie. Dit is omtrent 20% meer as in 2012.

Candice Murray, ’n student by die Universiteit van Stellenbosch, sê dit is duidelik dat daar nou meer nie-blanke lede by Van Der Stel Sport Sentrum is. Soos talle ander lede van die gym voel sy dit is ’n positiewe verwikkeling dat mense van verskillende rasse gemaklik in so ’n intieme spasie kan verkeer.

Om by Virgin Active Stellenbosch vir ‘n maand lank te gym kan jou tot R459 kos, waar Van Der Stel Sport Sentrum jou slegs R199 uit die sak jaag.

Edgar Rinquest van Cloetesville sê dit is goed dat Van Der Stel Sport Sentrum se fasiliteite so toeganklik is vir mense met ’n kleiner begroting. Hy meen verder dat meeste Stellenbosch besighede hulle toespits op die studentemark en vergeet dan van die res.

Jean Willers,’n gymganger, sê Vigin Active verteenwoordig’n leefstyl en is ’n simbool van status; gereserveer vir mense van ’n sekere klas.

Heelwat Xhosa’s kies Afrikaans vir “beter toekoms”

STELLENBOSCH – ʼn Beduidende aantal Xhosa sprekendes word elke jaar, vir die afgelope paar jaar, by die oorwegend Afrikaans-medium, Lückhoff Senior Sekondêre Skool in Idasvallei ingeskryf.

Die meerderheid, indien nie almal, van hierdie leerders is woonagtig in Kayamandi; loopafstand van twee hoërskole, waar opvoeding in hul moedertaal aangebied word. Tog verkies hulle om vroeër op te staan en vir ‘n taxi te betaal om hulle na ‘n ander skool te vervoer.

Maphelo Ntshanga, skoolhoof van Kayamandi Hoërskool, is van mening dat daar ‘n persepsie is dat “dit beter gaan aan die ander kant van die rivier”. Volgens verlede jaar se matriek eindresultate is dit nie noodwendig die geval nie: In 2013 het 90.5% persent van  Makupula Hoër, in Kayamandi, se matriekulante geslaag, ietwat hoër as Lückhoff SSS se 88%.

Sherine Barends, adjunk-hoof van Lückhoff, voer aan dat sowat 20% van hul studente korps se moedertaal Xhosa is. Sy sê ook verder dat die leerders wat wel presteer ander Xhosa sprekende ouers motiveer om ook hul kinders by hierdie skool in te skryf.

Volgens me. Barends is die realiteit egter dat slegs 50% van hierdie leerders graad 10 vlak haal. Sy voer verder aan dat “die enigste tyd wanneer hierdie kinders formele Afrikaans praat tydens kontaksessies met opvoeders is” en dat “hulle ongemaklikheid met die taal hulle dikwels frustreer”.  

Sikelela Tabata (18), graad 12 -leerder van Lückhoff, sê soos ander Xhosa-sprekendes by die skool is sy die produk van ʼn Afrikaanse laerskool in die gebied.

Haar ouers en bure kon nooit rêrig Afrikaans praat nie en kon haar nooit met met tuiswerk help nie. Sy vertel hoe sy dikwels alleen gevoel het en op haar eie moes sukkel.

Tog is haar jonger suster ook by die Afrikaanse skool ingeskryf. Glorious Tabata, Sikelela se ma, verduidelik dat alhoewel sy nie self Afrikaans kan praat nie, dit nog altyd haar wens was dat haar kinders die taal vlot sal kan praat, met die hoop op ʼn “beter toekoms”. 

Simthembile Xeketwana, junior isiXhosa dosent by die Universiteit van Stellenbosch, glo talle isiXhosa sprekendes glo dat Afrikaans hoër geplaas is op die “denkbeeldige hiërargie van tale” en verkleineer dan so hul moedertaal. Verder sê Xeketwana dat die aanleer van Afrikaans deur die swart mens in Stellenbosch gesien kan word as gereedkap om werk te kry en om in te pas.